Dink of Sink- Virtuele skoledebatkompetisie

Die Dink of Sink- onvoorbereide debatskompetisie vind weer in 2021 virtueel plaas.

AfriForum wil in samewerking met Dink of Sink se gasheerskole en mediavennote die inisiatief voortsit deur ’n virtuele debatskompetisie aan te bied.

Die doel van die virtuele debatskompetisie is om leerders steeds die geleentheid te gee om aan debatvoering deel te neem. ’n Opname van die debat sal aan AfriForum Onderwys gestuur word, waarna ’n wenspan in elke streek deur ’n paneel beoordelaars aangewys sal word. Elke wenspan sal heerlike pryse ontvang en sal ook deurdring na die landswye finaal wat in Oktober sal plaasvind.

Hoe werk dit?

 

Stap 1:

’n Skool skryf soveel junior (gr. 8 en 9) en senior (gr. 10–12) spanne in soos hulle wil.

Let wel, skole gaan teen hulself kompeteer, dit wil sê, twee junior spanne van bv.: Hoërskool Montana gaan teen mekaar debatteer en dieselfde met die seniors.

Die inskrywing en deelname is steeds heeltemal gratis.

Stap 2:

Voltooi die registrasievorm vooraf, op Dink of Sink se webblad:

Dink of Sink – Virtuele debatskompetisie – Registrasievorm

Sodra die registrasievorm suksesvol gestuur is, sal julle ’n unieke skakel en wagwoord ontvang. Die skakel en wagwoord gaan vir julle toegang gee tot die “debatblad”. Op die debatblad gaan al die spanne wat ingeskryf is vir die kompetisie, junior en senior, gelys word. Die debatleier klik dan op die twee spanne wat teen mekaar gaan debatteer en druk “stuur”. Daarna sal die onderwerp outomaties verskaf word en die debat begin dadelik.

Onthou om solank te loot voordat julle die onderwerp kry.

Registrasie moet voor die dag van debat opname, deur die debatorganiseerder afgehandel word. Bv. die debatorganiseerder kan in Mei 2021 die registrasievorm voltooi en dan eers in Augustus 2021 die debatte opneem.

Stap 3:

Sodra beide spanne weet wat die onderwerp is en wie inleidend en opponerend gaan debatteer, kan die vyf minute voorbereidingstyd begin.

Met die aanvangs van die vyf minute voorbereidingstyd moet die video-opname van die debat ook begin.

Maak seker die selfoon waarmee die debat opgeneem word, se fotofunksie is gestel op die landskap-oriëntasie (“landscape setting”).

Die opname van die debat verloop presies soos die werklike debat sou plaasvind. Daar moet ook ’n debatleier wees – wat ’n leerder of afrigter kan wees – om die oorgange tussen die standpunte en die debatsgesprek te reguleer.

Die formaat en tydsaanduidings bly presies dieselfde as die normale Dink of Sink-formaat.

www.dinkofsink.co.za/hrskool/kompetisieformaat/

Geen debat behoort langer as 30 minute te wees nie.

Spanne kan hul debat tussen 15 Maart 2021 en 31 Augustus 2021 opneem en instuur.

Die debat kan tydens ’n pouse opgeneem word of ’n halfuur ná skool, of enige tyd wat geleë is vir die spanne en afrigter/onderwyser. Kies dus ’n dag en tyd vir die debatopname, vul die registrasie voor die dag van die debatopname in, ontvang jul unieke onderwerp sodra die spanne gekies is op die “debat-blad” en begin met die debat!

Let wel: Spanne wat teen mekaar gedebatteer het, mag net een keer deelneem bv.: Hoërskool Eldoraigne, junior span 1 – Karla, Johan en Bianca TEEN Hoërskool Eldoraigne junior span 2 – Sarel, Monique en Piet.

Span 1 mag weer teen span 3 van Hoërskool Eldoraigne deelneem en span 2 mag weer teen span 3 of 4 van Hoërskool Eldoraigne deelneem, maar span 1 en 2 mag net een keer teen mekaar deelneem.

Stap 4:

Sodra die debat klaar opgeneem is, kan dit deur middel van die skakel op die webblad aan AfriForum Onderwys gestuur word.

Geen debatopname mag geredigeer word nie. Ons soek die rou produk, maar ons moet die sprekers duidelik kan hoor.

Stap 5:

Die uitslae van die wenspanne en algehele junior en senior debatspanne, in elke streek, wat deurdring na die landswye finaal, word op 7 September 2021 bekendgemaak.

Die landswye finaal sal op 2 Oktober 2021 plaasvind.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!