Dink of Sink-skoledebatkompetisie

Die Dink of Sink- onvoorbereide debatkompetisie vind weer in 2024 by ons gasheerskole plaas.

AfriForum wil in samewerking met Dink of Sink se gasheerskole en mediavennote die inisiatief voortsit deur die skoledebatkompetisie aan te bied.

Die doel van die debatkompetisie is om leerders die geleentheid te gee om aan debatvoering deel te neem. Daar vind verskeie streeksuitdunne deur die jaar plaas en die finaal vind in Oktober 2024 in Centurion plaas. Die wenspanne van elke streek dring deur na die finaal waar die uitkloprondtes en Dink of Sink- nasionale finaal plaasvind om die land se beste onvoorbereide debatteerders aan te kondig.
Elke wenspan sal heerlike pryse ontvang.

Die formaat van onvoorbereide debat

  1. In beide die senior- en juniorafdeling word die spanne so ver moontlik in vier groepe van vier elk verdeel. Elke span voer in die uitdunronde drie debatte, een teen elke ander span in sy bepaalde groep. Hierdie indeling kan natuurlik verander na gelang van die hoeveelheid spanne wat deelneem.

     

  2. Juniorspanne bestaan uit graad 8- en 9-leerlinge en seniorspanne uit graad 10-, 11- en 12-leerlinge.

     

  3. In die geval van die junior- en seniorafdeling dring die span wat die meeste debatte in sy groep gewen het deur na die halfeindronde. Indien dit gebeur dat twee spanne in ’n bepaalde groep gelykop eindig, dring die span wat in sy drie debatte die hoogste netto-totaal op die beoordelingstaat opgestapel het, deur. Wendebatte word bepaal deur die puntestaat.

     

  4. Die debattering geskied slegs in Afrikaans.

     

  5. Die onderwerpe word nie vooraf aan die deelnemers voorsien nie en dus is die debatte onvoorbereid. Die onderwerpe sal nie buitengewone algemene kennis van die leerders vereis nie en sal binne hul ervaringsveld val.

     

  6. Die voorsitter verskaf die onderwerp aan die spanne. Spanne neem voor die onderwerp bekend gemaak word deel aan ’n loting wat bepaal watter span praat VIR die onderwerp en watter span praat TEEN die onderwerp. Daarna kry beide spanne vyf minute voorbereidingstyd. Elke spreker kry dan twee-en-’n-half minute praattyd – eers die eerste spreker van die inleidende span, dan die eerste spreker van die opponerende span, gevolg deur die tweede spreker van die inleidende span, ens. Dit is belangrik dat die bydraes van die drie spanlede ’n eenheid vorm. Hierna kry die spanne die geleentheid om mekaar sewe minute lank met vrae te takel, waarna die beoordelaars terugvoer van twee minute gee.

     

  7. Die Tydhouer sal deur middel van kleurkaarte ’n aanduiding gee wanneer die gegewe tyd verstreke is.
    Vyf minute voorbereiding: 3 min. – GROEN, 4 min. – GEEL, 5 min. – ROOI
    – Twee-en-’n-half minute per spreker: 1 min. – GROEN, 2 min. – GEEL, 2:30 min. – ROOI
    – Sewe minute kruisverhoor: 5 min. – GROEN, 6 min. – GEEL, 7 min. – ROOI

     

  8. Die voorsitter sien toe dat daar by die voorgeskrewe tye gehou word. Die voorsitter gee ook leiding aan die debat as een van die spanne of beide vasbrand op ’n punt en nie kan voortgaan nie. Onsamehangende standpunte sal ook gestop word en daar sal voortbeweeg word na die volgende standpunt of vraag. Hierdie is slegs van toepassing op die 7 minute-kruisverhoor tussen die twee spanne.

     

  9. Die eindronde van die juniors en die halfeindronde en eindronde van die seniors vind tydens die aandfunksie in die saal plaas. Hierdie debatte word deur vyf eksterne beoordelaars beoordeel. Alle beoordelaars, insluitend dié wat by uitdunrondes of die aandfunksie beoordeel, sal voortaan beoordelaars wees uit die Dink of Sink-beoordelaarsnetwerk.

     

  10. Die gehoor kry ook ’n geleentheid tydens die twee einddebatte by die aandfunksie om vrae aan die deelnemers te stel. Juniordebatte word voortaan tydens die uitdunne ook twee tot drie vrae gevra ter voorbereiding vir die einddebat.  

     

  11. Leerlinge, personeel, ouers en afrigters moet te alle tye besef dat hierdie kompetisie fokus op vrye debatvoering. Dit leer ons deelnemers ’n kosbare vaardigheid en die kompetisie moet te alle tye in ’n positiewe gees hanteer word. Negatiewe intimidasietegnieke sal nie toegelaat word nie en die span of spreker wat hom/haar hieraan skuldig maak sal summier gestop word.

     

  12. Hierdie kompetisie is nie soortgelyk aan ander debatskompetisies nie en moet ook asseblief in dié lig gesien en gerespekteer word.

Teken in op ons nuusbrief

Sluit aan by ons poslys om die nuutste nuus en opdaterings van ons span te ontvang.

Jy het suksesvol ingeteken!